Selebi-saak: Week 2 skop af
2009-10-13 09:15
Johannesburg - Die korrupsiesaak van die voormalige hoof van polisie, Jackie Selebi, is Dinsdag in die Johannesburgse hooggeregshof hervat.
Glenn Agliotti, wat vroeër skuldig bevind is op aanklagte van dwelmhandel, sal vandag weer onder kruisverhoor geplaas word.
Adv. Jaap Cilliers SC, regsverteenwoordiger vir die verdediging, het gevra dat die saak eers Dinsdag weer begin.
Cilliers en sy span het gesê hulle het tyd nodig om dokumente te bekom rondom die besigheidstransaksies van Brett Kebble, die vermoorde mynmagnaat, en sy vennote.
Cilliers wou ook toegang verkry tot Agliotti se paspoort om die datums van sekere besoeke aan Londen te bepaal.
Dié besoeke aan die Britse hoofstad word in 'n dokument wat aan die Engelse intelligensiedienste behoort, uiteengesit.
Die dokument is tans in die hande van die Suid-Afrikaanse regering in Pretoria.
Die 57-jarige Selebi het Maandag onskuldig gepleit op aanklagte van korrupsie en regsverydeling.
- Sapa