Selebi 'reageer goed op behandeling'
2011-12-07 10:07
Pretoria – Zacharia Modise, hoof-adjunkkommissaris van die departement van korrektiewe dienste, het Woensdag bevestig dat die voormalige nasionale polisiehoof, Jackie Selebi, goed reageer op behandeling.
Dit is egter onduidelik of Selebi in die hospitaalafdeling van die Pretoria-Sentraal-gevangenis gaan aanbly en of hy na 'n ander fasiliteit oorgeplaas sal word vir behandeling.
Modise het nie bevestig waarvoor Selebi behandel word nie, maar het gesê hy sterk goed aan.
Volgens Modise werk 'n dokter van die staat saam met Selebi se privaatdokter, wat tevrede is met sy behandeling.
Selebi het die naweek in die Jakaranda-hospitaal in Pretoria deurgebring nadat sy aansoek om appèl teen sy skuldigbevinding aan bedrog Vrydag in die appèlhof in Bloemfontein van die hand gewys is.
Hy moes hom binne 48 uur vir sy tronkstraf van 15 jaar aanmeld, maar het blykbaar ineengestort nadat hy van die appèlhof se beslissing gehoor het.
Daar word verneem dat die 61-jarige Selebi, wat 'n diabeet is, dialise ondergaan het en dringend 'n nieroorplanting moet ondergaan.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter