Selebi ‘’n leier met lae morele waardes’
2010-07-03 07:20
Die Burger
Johannesburg. - Jackie Selebi, jare lank Suid-Afrika se polisiehoof, het lae morele waardes. Hy het selfs so laag gedaal dat hy getuienis gefabriseer het, het regter Meyer Joffe gister bevind.
Joffe het Selebi in die Suid-Gautengse hooggeregshof hier skuldig bevind op aanklag van korrupsie oor die algemeen.
Joffe het bevind daar was ’n korrupte verhouding tussen die oudpolisiehoof en die dwelmbaas Glenn Agliotti.
Dit het behels dat Selebi, ook voormalige hoof van Interpol, geld ontvang het en Agliotti voordele daarvoor ontvang het.
Selebi is onskuldig bevind op aanklag van regsverydeling.
Volgens die regter het die staat sy saak bo redelike twyfel bewys.
Met verwysing na die staat se uitwysing van die “Groot 5”-leuens wat Selebi vertel het, het hy self ’n “Groot Leuen Nr.?6” bygevoeg. Daarna het Joffe een vir een nóg Selebi-leuens opgenoem.
Die regter het gesê daar hoef nie ’n amptelike ooreenkoms te wees waar ’n korrupte verhouding bestaan nie.
“Selebi moes geweet het daar is nie so iets soos ’n free lunchnie.”
Die verpligte minimum straf vir korrupsie van dié aard is 15 jaar tronkstraf as die bedrag R500 000 oorskry. Die staat het die korrupsiebedrag op R1,2 miljoen gestel.
Joffe het behoorlik onder Selebi ingeklim.
“Daar kan nie op leiers met so ’n lae morele waarde vertrou word nie. Hy (Selebi) het so laag gedaal dat hy selfs getuienis gefabriseer het. Min geloofwaardigheid kan gegee word aan wat hy gesê het. Hy het ook geen respek vir hofprosedures nie.
“Selebi en Agliotti is albei vreemdelinge vir die waarheid. Agliotti het darem erken hy lieg.”
Agliotti, ’n dwelmbaas met bande met georganiseerde misdaad, was die hoofgetuie teen Selebi, wat hom eens op ’n tyd “my vriend, finish en klaar” genoem het.
Joffe het bevind Selebi het by meer as een geleentheid geld van Agliotti gekry en dat Agliotti voordele uit die verhouding gekry het.
Agliotti se voordele was inligting op amptelike dokumente oor onder meer ondersoeke teen hom en sy vriende.
Joffe het korte mette gemaak van Selebi se verweer dat vorige hoofde van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die aanklaer, adv. Gerrie Nel, teen hom saamgesweer het. “Selebi het ’n billike verhoor gekry en daar is geen meriete in sy bewerings nie.”
Selebi se ander verweer, dat hy nooit enige geld of goedere van Agliotti ontvang het nie, is voorval vir voorval deur Joffe bespreek.
Waar die “leuenagtige getuie” Agliotti die enigste bron vir ’n bewering was, het Selebi die voordeel van die twyfel gekry.
Joffe het Agliotti se destydse verloofde, Dianne Muller, as ’n sterk vrou beskryf en haar ondersteunende weergawe van hoe Agliotti R110 000 in ’n sakkie aan Selebi gegee het, as die waarheid aanvaar.
Hy het ook bevind verdere bedrae van R30 000 en R10 000 is aan Selebi gegee.
Volgens Joffe het “dollars” van Billy Rautenbach ook via Agliotti in Selebi se sak beland. Die staat het beweer Selebi het $30 000 gekry.
Joffe het ook bevind die verwysings c.o.p en chief op die teenblaadjies van die tjeks ter sprake het inderdaad na Selebi verwys.
Die saak is tot 14 Julie uitgestel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger