Selebi jok nie oor siekte, sê prokureur
2011-12-23 13:45
Pretoria – Die veroordeelde voormalige nasionale polisiehoof Jackie Selebi se gesondheid lyk nie goed nie en hy benodig die mediese behandeling wat hy tans by die Steve Biko Akademiese Hospitaal ontvang, het Wynanda Coetzee, sy prokureur, Vrydag gesê.
"Die laaste keer toe ek hom in die hospitaal besoek het, het hy ernstig siek gelyk. Ek mag egter nie die aard van sy siekte bekendmaak nie," het Coetzee gesê.
Sy het gesê Selebi se familie het haar gevra om nie sy siekte bekend te maak nie.
Op die vraag of daar aanduidings is vir hoe lank Selebi in die hospitaal sal wees, het Coetzee gesê: "Ek is 'n regspersoon en 'n leek wanneer dit kom by mediese kwessies, maar vir my lyk dit nie of hy binnekort uit die hospitaal ontslaan sal word nie. Dit is onmoontlik vir my om te weet wanneer hy ontslaan word, maar ek is seker die dokters sal weet".
"Ek was daar (by die hospitaal) en ek het hom gesien. Dit is nie asof die man aansit of iets nie, sy gesondheid is nie goed nie," het Coetzee in reaksie op spekulasie dat Selebi jok oor sy siekte om uit die tronk te bly.
Coetzee het gesê sy weet nie van die "nuwe verwikkelinge" wat as rede vir die uitstel van die mediakonferensie deur Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van korrektiewe dienste, aangevoer is.
'n Nuwe datum vir dié mediakonferensie sal later aangekondig word.
Selebi is steeds in 'n ernstige toestand in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria waar hy vir nierprobleme en hipertensie behandel word.
Hy is vir die tweede keer sedert sy appèlaansoek misluk het in die hospitaal opgeneem.
Selebi dien 15 jaar tronkstraf uit vir korrupsie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA