Selebi in hospitaal vir toetse
2011-12-12 14:31
Pretoria – Die voormalige nasionale polisiehoof Jackie Selebi is na Steve Biko-hospitaal in Pretoria geneem vir toetse, het Sibongile Khumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, Maandag gesê.
"Hy is 'n siek man en omdat hy siek is moet hy toetse ondergaan."
Sy wou nie verdere besonderhede bekend maak nie.
Selebi het verlede naweek in die Jakaranda-hospitaal in Pretoria deurgebring nadat sy aansoek om appèl teen sy skuldigbevinding aan bedrog in die appèlhof in Bloemfontein van die hand gewys is.
Hy moes hom binne 48 uur vir sy tronkstraf van 15 jaar aanmeld, maar het blykbaar ineengestort nadat hy van die appèlhof se beslissing gehoor het.
'n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik en hy is Maandagmiddag na die hospitaalafdeling van Pretoria-Sentraal-gevangenis geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA