Selebi glo slagoffer van Skerpioene-komplot
2010-05-04 19:48
Johannesburg – Die voormalige nasionale polisie-kommissaris Jackie Selebi was ‘n “slagoffer” van ‘n komplot deur die base van die Skerpioene waardeur hulle hom wou onttroon om die status quo te behou, het Lawrence Mrwebi, die voormalige KwaZulu-Natal hoof van die Skerpioene, Dinsdag in die hooggeregshof gesê.
Hy het aan die hof gesê dat senior lede van die Skerpioene paniekerig geraak het toe die ANC onderneem het om die Skerpioene te ontbind.
Vervolgens het hulle vergaderings gehou oor “strategieë om voornemens van die ANC se beleidskonferensie teen te staan... (hoe ons kan) verseker dat die Skerpioene kan aanhou om te bestaan.”
“Die hoof van die Skerpioene, Leonard McCarthy, het ons beveel om soveel moontlik polisie-amptenare in hegtenis te neem...dit het baie duidelik vir my geword dat die nasionale kommissaris die teiken was,” het Mrwebi aan die hof gesê.
Hy het getuig dat hy ‘n affidavit geskryf het oor wat by die vergadering bespreek is ná die Browse Mole-verslag in 2007 aan die media uitgelek het.
Die affidavit, wat hy Dinsdagoggend in die hof gelees het, het gelei tot sy skorsing in 2008 vir “verskeie vorme van wangedrag”.
Mrwebi se getuienis het gevolg op dié van brigadier Reginald James Taylor, wat saam met Selebi by Interpol gewerk het.
Die verhoor duur voort.
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter