Selebi, Shaik se vonnisse ook verkort
2012-04-28 15:45
Johannesburg – Jackie Selebi, die voormalige polisiehoof, en Schabir Shaik, voormalige finansiële raadgewer van pres. Jacob Zuma, sal ook voordeel trek uit 'n aankondiging Vrydag dat sommige gevangenes se vonnisse met tot 18 maande verkort sal word, het 'n berig Saterdag gelui.
Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van korrektiewe dienste, het bevestig dat albei mans in aanmerking kom vir 'n vonnisverkorting van 18 maande.
Sy het gesê hulle tel onder duisende wat vroeg vrygelaat sal word.
"Natuurlik sal hulle soos al die ander gevangenes voordeel trek maar daar is geen spesiale amnestie of kwytskelding vir Schabir Shaik en Jackie Selebi nie," het die minister volgens SABC-radionuus gesê.
Die hooggeregshof in Durban het Shaik in 2005 tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir bedrog en korrupsie. Sy vonnis eindig effektief in 2021.
Shaik is in Maart 2009 op mediese parool vrygelaat ná 'n terminale siekte by hom gediagnoseer is. Hy het twee jaar en vier maande van sy vonnis uitgedien.
Selebi is op 2 Julie 2010 aan korrupsie skuldig bevind, en is tronkstraf van 15 jaar opgelê.
Nathi Mthethwa, die minister van polisie, het Saterdag meer besonderhede oor die aankondiging gegee.
"Die spesiale toegewing... sal alle veroordeelde gevangenes en [misdadigers] wat voorwaardelik vrygelaat is en op parool is, 'n vonnisverkorting van ses maande gee... en 'n addisionele 12 maande," het hy gesê.
Ongeveer 20 855 veroordeelde misdadigers wat voorwaardelik vrygelaat is en op parool is, en 14 651 gevangenes sal na verwagting ingevolge die aankondiging vrygelaat word.
Gevangenes wat ontsnap het en steeds voortvlugtig is, en gevangenes wat geklassifiseer is as gevaarlike en aggressiewe misdadigers, kom nie in aanmerking nie, het hy in Pretoria aan verslaggewers gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA