Selebi: Bewyse dui op my onskuld
2011-05-27 12:47
Johannesburg – Die voormalige Nasionale Polisiekommissaris, Jackie Selebi, sê die oorwig van feite en moontlikhede wat tydens sy korrupsieverhoor na vore gekom het, dui in werklikheid op sy onskuld.
Dít is vervat in Selebi se betooghoofde aan die appèlhof.
Selebi is verlede jaar deur die Suid-Gautengse Hooggeregshof skuldig bevind weens korrupsie en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.
Die hof het bevind dat Selebi geld en geskenke van die veroordeelde dwelmbaas, Glen Agliotti, ontvang het. Hy het ook vertroulike polisiedokumente aan Agliotti gewys.
Selebi se regspan het egter aangevoer dat die aanklagte deur die Skerpioene gefabriseer is.
Die staat het tyd tot 27 Junie om sy betooghoofde in te dien, waarna die saak later vanjaar deur die hof aangehoor sal word.
– RSG
Volg Nuus24 op Twitter