Sekswerkers loop hul rieme styf
2009-09-28 07:30
Marlene Neethling
Kaapstad - Die polisie en wetstoepassers van die Kaapstadse stadsraad het Vrydagaand op sekswerkers toegeslaan en 18 vroue op die straathoeke van die noordelike voorstede in hegtenis geneem.
Volgens mnr. JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, is tien mense in Bellville, drie in Goodwood en vyf in Parow vasgetrek. ’n Man is in Bellville met dwelms in sy sak gevang en in hegtenis geneem.
Smith en mnr. Rudolf Wiltshire, hoof van die stad se gespesialiseerde dienste, het saam met die 30 wetstoepassers tot in die vroeë oggendure die strate gepatrolleer.
Die mense is in hegtenis geneem op grond van die verordening op strate, openbare plekke en steurnisse, waarvan drie oortredings met seksuele gedrag verband hou.
Volgens Smith het die polisie en stadsraad nou ’n nuwe aanslag begin om die aantal sekswerkers op strate te verminder.
Die oortreders word in hegtenis geneem en hul persoonlike besonderhede word nagegaan in die 12 uur wat hulle in aanhouding deurbring.
“Daar sal lêers oopgemaak word vir elke oortreder. Só gaan ons nou op die spoor van hierdie mense se gedrag en oortredings bly. Ons sal hulle hof toe neem as die boetes nie betaal word nie,” het Smith gesê.
Boetes beloop R500 vir die eerste oortreding, R1 000 vir die tweede en R1 500 vir die derde.
Dié strategie gaan nou gereeld oor die hele metropool toegepas word.
Volgens Wiltshire beplan hulle ook om op bordele toe te slaan. “Baie van hierdie huise het nie die nodige permitte om sake te doen nie, dus kan ons hulle beboet volgens die verordening op grondgebruik.”
Die verordening op strate, openbare plekke en steurnisse word ook tans hersien. Smith het gesê hulle hoop om onder meer die boetes te verhoog en dit ’n oortreding te maak om van die sekswerkers se dienste gebruik te maak, sodat die kliënt ook beboet kan word.
* Altesaam 21 mense van die Kraaifontein-gebied is ook die naweek deur die metropolisie in hegtenis geneem vir die besit van verbode middels. Luidens ’n verklaring is dit as deel van Operasie Razor gedoen. Daar is op 173 pakkies tik en Mandrax beslag gelê.
- Die Burger