Seksuele molestering by skool oopgevlek - 28 jaar later
2010-12-10 07:09
Die Burger
Paarl – Ná 28 jaar het ’n sweer van beweerde kindermolestering by ’n vooraanstaande Paarlse hoërskool oopgebars.
Johan Hendrickse (43) beweer ’n onderwyser aan Paarl Gimnasium het van 1982 tot 1983 orale seks op hom beoefen, hom betas en naakfoto’s van hom geneem toe hy ’n 15-jarige leerder aan dié skool was en in die koshuis Huis MacFarlane gebly het.
Die Burger besit ook ’n afskrif van ’n beëdigde verklaring deur ’n ander oudleerder wat soortgelyke bewerings oor dieselfde onderwyser maak.
Hendrickse en die ander man beweer voorts die destydse skoolhoof, Ockert Lategan, het van die beweerde voorvalle geweet, maar die onderwyser het etlike jare voortgegaan om daar te onderrig. Hendrickse het gesê sy ouers is nooit daaroor ingelig nie.
“Ek was so bang om nog in die koshuis te bly. Ek wou huis toe gaan,” het hy gesê.
Volgens Hendrickse het die betrokke onderwyser hom gedreig indien hy met sy ouers sou praat.
Lategan, wat afgetree is en in Hartenbos woon, het aan Die Burger bevestig Hendrickse het hom vertel van die beweerde molestering. Hy het met van sy maats gepraat, wat die bewerings gestaaf het. Daarna het hy die betrokke onderwyser ingeroep, wat die dade erken het. “Jy moet weet jy kan nie hier bly nie,” het Lategan toe aan hom gesê.
Volgens Lategan het die onderwyser net die betrokke skooldag klaargemaak voordat hy weg is.
Die Burger het genoem daar is bewerings dat die man by die skool aangebly het, maar Lategan het voet by stuk gehou.
Hendrickse, toe in gr. 9, beweer die man het vir die res van sy skoolloopbaan by Paarl Gimnasium gebly totdat hy in 1986 gematrikuleer het.
’n Oudleerder aan Paarl Gimnasium wat in 1989 gematrikuleer het, het gesê die betrokke onderwyser was toe steeds by die skool.
Tot 2009, toe hy met berading begin het, het Hendrickse met sy verlede geworstel.
Hy het vertel hy het ’n reuse-skuldgevoel gehad en gevoel hy moet homself gedurig as man bewys. Dit het tot drank- en steroïedemisbruik en geweld gelei. Hy het ook sy vrou verkul. Hulle het later geskei. Hy het intussen ’n klag by die polisie ingedien.
James Genis, huidige hoof van Paarl Gimnasium, het gesê ’n polisiebeampte het die skool besoek. “Ons as skool is bereid om te help om geregtigheid te laat geskied,” het hy bygevoeg.
Kapt. Louise du Plessis, Paarlse polisiewoordvoerder, het verlede maand bevestig ’n klag is ingedien en word ondersoek. Hendrickse het intussen gehoor die beweerde misdaad het verjaar, en hy oorweeg siviele stappe. Hy openbaar die dade om berusting te vind.
“En om op te staan vir die duisende kindertjies wat daagliks verkrag word.” Hy glo ander mans wat dieselfde deurgaan, moenie skuldig voel nie. “Kom uit en praat daaroor.”
* Die betrokke onderwyser se naam mag nie genoem word nie en hy kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger