Seksnetwerk in Karoo oopgevlek
2011-10-19 07:10
Oudtshoorn – ’n Seksnetwerk is sedert Maandag op Nelspoort, tussen Beaufort-Wes en Drie Susters, oopgevlek. Vyf meisies tussen die ouderdom van 12 en 15 is betrokke.
Ses mans, onder wie drie polisiemanne, is sedert Maandagaand in hegtenis geneem. Die ander drie is kontrakwerkers wat tydelik op Nelspoort woon en werk. Hulle sal onder meer aangekla word van statutêre verkragting, seksuele misbruik van minderjarige meisies en mensehandel.
Twee van die mans is Maandagaand in hegtenis geneem en nog twee – onder wie ’n polisieman – Dinsdagaand. Die polisieman is by sy huis op die dorp aangekeer. Die ander twee polisiemanne is onderskeidelik op Beaufort-Wes en Oudtshoorn aangekeer.
’n Twaalfjarige meisie, vermoedelik ’n seksslaaf, is in twee van die verdagtes se kamer in ’n tehuis in Nelspoort gevind.
Sy is vermoedelik uit die Vrystaat ontvoer.
Luidens verklarings van die ander vier meisies is hulle reeds geruime tyd seksueel deur die polisielede misbruik.
“’n Ma wat by een van die polisielede se vrou gehoor het dat haar dogter seksueel by die polisieman betrokke is, het by Molo Shongololo kom aanklop vir hulp,” het Una Wentzel van dié kinderbeskermingsorganisasie gesê.
Wentzel en lede van die Beaufort-Wes-polisiekantoor is Maandagmiddag na Nelspoort om die bewerings te ondersoek.
“’n Verklaring van die meisie wie se ma kom praat het, het aan die lig gebring dat nóg minderjarige meisies seksueel deur die polisielede misbruik word. Hulle nooi die meisies met MXit na die polisiekantoor, waarna hulle in die aanklagkantoor seksuele omgang met hulle het.”
Verklarings het aan die lig gebring dat drie kontrakwerkers van Mkhulu wat vir Eskom werk doen ook jong meisies as seksslawe gebruik. “Ons het op grond van dié verklarings ’n klopjag gedoen op ’n oud-verpleërstehuis waar dié werkers kamers huur. Twee mans is in hegtenis geneem.
“Ons het ’n meisie van sowat 12 gevind in ’n vertrek wat deur twee mans gedeel word. Sy was by een van die verdagtes in die bed,” het Wentzel gesê.
“Nog ’n meisie het gesê sy het op die meeste R100 vir seks by ’n ander Mkhulu-werker gekry.”
Volgens Wentzel is al die meisies in die sorg van hul ouers of pleegouers geplaas. Die 12-jarige is in ’n veilige plek en sal na haar ouers of voogde teruggeneem word.
Die ses verdagtes sal na verwagting môre in die Beaufort-Wes-landdroshof verskyn.
Albert Fritz, Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, het gesê seksuele misdrywe soos hierdie word ten sterkste veroordeel.
“Volwassenes is veronderstel om in te tree vir ons kinders, nie om hulle te verlei nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger