Drie gesinne vas vir kinderporno
2010-12-03 07:38
Leané du Plessis en Gerhard Pretorius
Johannesburg – Drie verwante gesinne is gisteroggend in hegtenis geneem omdat hulle na bewering hul kinders, klein- en peetkinders saam met hulle in pornografiese video’s laat optree het.
In een van die video’s word ’n 13-jarige meisie na bewering deur vier van haar familielede verkrag.
Die polisie het saam met die Pretoriase departement van gesondheid en maatskaplike dienste op die vermeende pornografie-sindikaat aan die buitewyke van Pretoria-Noord toegeslaan.
Agt volwassenes is in die vroeë oggendure by drie huise, waarvan twee op een terrein is, in hegtenis geneem, het lt.kol. Lungelo Dlamini, Gautengse polisiewoordvoerder, gesê.
Vier kinders tussen vier en 13 jaar is na ’n plek van bewaring geneem.
Twee pleegkinders, ’n seun (6) en meisie (8), is in Junie deur die Christelike Maatskaplike Raad verwyder, het Dlamini gesê.
Beeld het vertroulik verneem dié meisie het aan ’n maatskaplike werker vertel haar familielede het seks met haar gehad en dit verfilm.
Hulle het haar dan glo later gedwing om daarna te kyk.
Die polisie het eerste op die “hoofhuis”, waarin die 58-jarige “oupa” en 57-jarige “ouma” bly en waarin die pornografiese video’s glo vervaardig is, toegeslaan.
Hulle het hulle in die bed saam met ’n negejarige kleinkind en dié se vierjarige nefie gevind.
Die huis het na urine en ontlasting gestink. Oral was oorvol asbakkies en leë sigaretboksies rondgestrooi.
Teen die muur bo die verdagtes se bed het ’n geraamde troufoto skeef gehang, met ’n kring van vuil teddiebere rondom en ’n prentjie wat een van die kinders geteken het, langsaan opgeplak.
’n Bybel het netjies op die gehawende bedkassie gepryk.
Die “ouma” het voor haar uitgestaar terwyl polisielede die kamer deurgesoek het.
“Ons het niks aan daai kinders gedoen nie. Ons is baie lief vir hulle,” het sy gesê.
Die kombuis het gekrioel van vlieë en maaiers. In ’n hoek het ’n verfdrom half vol verrotte groente gestaan. ’n Reuse-asblik met nywerheidsvullis is teenaan die vuil etenstafel gestoot.
Na verneem word, is beslag gelê op ’n matras wat vir seksdade buite die huis en soms selfs in die varkhokke gebruik is.
In die huis langsaan, waarin die ouma se dogter (31), haar man (37) en die negejarige seun woon, is minstens drie bewyssakke vol pornografiese materiaal gevind.
Die tweede gesin het toevallig kort daarna in hul motor op die toneel aangekom. ’n Man (43) en vrou (26) is gearresteer en hul agtjarige seun, die boetie van die nefie (4), uit hul sorg verwyder.
Toe die polisie by die laaste huis ’n paar kilometer verder opdaag, het die ma (24) en haar 13-jarige dogter onbedaarlik begin huil.
Haar pa (41), wat die seun van die “oupa” is, en broer (28) is in hegtenis geneem en die meisie verwyder.
“Toemaar, Mamma, ek sien julle môre weer,” het sy probeer troos.
Die kinders ontken tot dusver die bewerings, het Surika van Schalkwyk, kommunikasiebestuurder van Solidariteit Helpende Hand, gesê.
Van Schalkwyk het die kinders na die plek van bewaring geneem.
“Die negejarige het herhaaldelik histeries begin huil en onophoudelik gebid terwyl hy heen en weer gewieg het.”
Die verdagtes word aangekla van onder meer verkragting, seksuele aanranding en die vervaardiging en verspreiding van pornografie.
Hulle verskyn Maandag in die Pretoria-Noord-landdroshof.
- Die borgtogaansoek van ’n stiefma van Germiston wat haar agtjarige dogtertjie na bewering twee jaar gelede in ’n pornografiese video gebruik het, kom Maandag in die Germistonse landdroshof voor.
Die meisie is na bewering gedwing om te kyk hoe haar stiefma seks met hul buurman het, waarna sy seksuele dade met haar stiefma moes pleeg. Dit is alles verfilm.
Volg Beeld op Twitter.
- Beeld