Sekere banke 'vat te veel'
2011-10-21 08:04
Pretoria – Bankkoste in Suid-Afrika is te hoog en gebruikers van bankdienste behoort beter ingelig en bereid te wees om hul persoonlike rekeninge te skuif om beter waarde vir geld te kry, meen Solidariteit.
Dié vakbond se navorsingsinstituut (SNI) het Donderdag ’n bankkosteverslag bekend gestel waarin bevind is Absa het sy status as een van die twee duurste banke in die land behou.
Paul Joubert, senior navorser by die SNI, het gesê die bankkoste van Absa se goedkoopste rekening het boonop vanjaar met 8% gestyg, terwyl Capitec se bankkoste glad nie gestyg het nie.
Die gemiddelde maandelikse bankkoste vir die goedkoopste basiese rekening by Capitec is R67,35, terwyl dit by ENB R73,10 is, by Nedbank R105,04, by Standard Bank R133,43 en by Absa R152,15.
Dit is bereken as ’n gemiddeld van agt transaksieprofiele met die effek van rente of verbeurde rente buite rekening gelaat.
Die bankkoste van verskeie kombinasies van maandelikse transaksies is op verskillende bestedingsvlakke bereken. Die ondersoek het net op die kernaspekte van transaksionele rekeninge gefokus om vergelykings so billik moontlik te maak.
Dr. Dirk Hermann, uitvoerende adjunkhoof van Solidariteit, het gesê die eerste verslag wat verlede jaar uitgereik is, het tot ’n baie groter bewustheid oor die koste van bankkoste onder verbruikers gelei.
Volgens Hermann is daar geen rede meer hoekom mense historiese bande met banke hoef te hê nie. “Mense behoort keuses te maak wat tot hul voordeel sal wees. En hulle moet ook nie onder die illusie verkeer dat dit moeilik is om van bank te verander nie.”
Afrikaanssprekendes verteenwoordig 31% van die koopkrag in die land en daar is sonder twyfel goeie geleenthede vir enige bank wat Afrikaans as ’n nisproduk wil bevorder, het hy gesê.
Joubert het gesê verbruikers moet nie net aanvaar die rekening wat ’n bank vir hulle aanbeveel is die goedkoopste opsie nie.
Solidariteit het verlede jaar ’n aparte ondersoek oor die bankkoste van die groot handelsbanke se maatskappyrekeninge gedoen en op grond daarvan 35 van sy rekeninge van Absa na ENB geskuif.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld