‘Sê nou toeriste sterf oor slaggat?’
2010-04-14 06:10
Antoinette Pienaar, Beeld
‘Wat gaan die regering doen as ’n WB 2010-toeris op so ’n pad verongeluk?”
Dít wil George Struwig (45) van Pretoria weet.
Hy is Vrydagaand in ’n motorongeluk beseer toe hy vir ’n reuseslaggat op ’n pad tussen Beestekraal en Brits uitgeswaai het.
Daarna het hy boonop drie dae lank vergeefs gewag om in Gautengse staatshospitale behandel te word vir ’n diep gat in sy arm wat glo septies geword het.
Struwig het gister vanuit die Pretoria-Wes-hospitaal se private Folateng-vleuel aan Beeld gesê hy is dankbaar dat nie hy of sy passasiers, Armand Jordaan en Lizandré (2), Jordaan se dogter, ernstig beseer is nie.
“As ek die slaggat direk getref het, sou dit noodlottig kon wees. Die regering bestee miljoene om gereed te maak vir WB?2010, maar toeriste gaan daardie paaie gebruik as hulle na plekke soos Sun City ry.”
Volgens Struwig was daar baie slaggate op die pad en het hy voor die ongeluk al gestop om ’n stukkende band te vervang.
“Sowat 3km verder het ons skielik die massiewe gat in die pad gesien. Ek het geskrik, uitgeswaai en op die modder gegly. Die bakkie het daarna vasgehaak en omgeslaan.”
Struwig is na die Steve Biko-Akademiese Hospitaal in Pretoria omdat hy nie ’n mediese fonds het nie.
“By ongevalle het ’n vrou gesê die hospitaal is toe, hulle help niemand nie.”
Hy is toe na Pretoria-Wes-hospitaal, waar hy glo ’n pyninspuiting gekry het en terugverwys is na Steve Biko.
Terug by Steve Biko het ’n verpleegster glo sy bloeddruk en temperatuur gemeet.
“’n Dokter het ’n stuk glas met ’n pen uit my wond gekrap en gesê ek moet ’n veloorplanting kry.
Hulle het nie die wond skoongemaak nie en elke keer gesê dit moet in teater gedoen word.”
Teen eergister is Struwig nog nie geopereer nie en het hy geëis dat ’n dokter na die wond kyk omdat dit begin stink het.
Struwig se broer Jan het hom dieselfde middag na Folateng, die Pretoria-Wes-hospitaal se private vleuel, geneem waar die familie nou self vir sy behandeling betaal.
Die wond is gistermiddag in die teater skoongemaak, maar was glo te septies vir ’n veloorplanting.
Die Steve Biko-hospitaal se bestuur het Struwig glo telefonies om verskoning gevra
Matshube Mfoloe, woordvoerder van Noordwes se departement van paaie, het gister toegegee die toestand van provinsie se paaie is “sleg” weens ’n tekort aan geld vir instandhouding.
Die plan is glo om in die nuwe boekjaar meer geld aan die herstel van paaie as aan die bou van nuwes te bestee.
Mnr. Mandla Sidu, woordvoerder van die departement van gesondheid, het gister gesê die Steve Biko-hospitaal ondersoek die klagte oor Struwig se behandeling.
-Beeld