Sasolburg steeds op 'n mespunt
2013-01-21 07:20
Fotogalery - Plaaswerkers betoog weer
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Johannesburg – Inwoners van die Zamdela-township in Sasolburg in die Vrystaat was teen Maandagoggend steeds besig om te betoog oor die beplande samesmelting van die Metsimaholo- en Ngwathe-munisipaliteit.
Inwoners was vroegoggend besig om paaie te versper, het die polisie gesê.
"Die betogings het net ná 05:00 [Maandagoggend] begin. Hoofpaaie na die Zamdela-township is versper... bande brand," het konst. Peter Kareli, polisiewoordvoerder, gesê.
Kinders het ook van die skool af weggebly, het hy gesê.
Die betogings het Sondag begin ná die munisipaliteit inwoners ingelig het oor nuwe planne vir die samesmelting van die Metsimaholo- en Ngwathe-munisipaliteit.
Inwoners van Sasolburg moes hulle in winkels toesluit toe meer as 3 000 oproeriges van Zamdela die strate ingevaar het. Mense is gedreig, en die paaie versper.
Miljoene rande se skade is aangerig by winkels in die sakesentrum en by die Sasolburg Square in John Vorsterstraat. Winkels in die tonwship is ook geplunder.
Bykans 90 mense is in verband met openbare geweld in hegtenis geneem.
"Meer mense is omstreeks 03:00 vanoggend [Maandag] in hegtenis geneem toe hulle voortgegaan het om winkels te plunder," het Kareli gesê.
– Is jy op die toneel? Laai jou foto's of storie, of stuur dit aan ons.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA