Sasolburg: Minister kom tot die redding
2013-01-22 15:01
Sasolburg – Richard Baloyi, minister van samewerkende regering, het besluit om die samesmelting van die Sasolburg- en Parys-munisipaliteit in die Vrystaat te laat vaar, berig die SABC.
Inwoners het aangedui dat hulle gelukkig is met Baloyi se besluit dat 'n taakspan aangestel moet word om die ingewikkelde kwessie van munisipale afbakening aan te spreek.
Dié besluit volg ná dae van gewelddadige betogings in die gebied, veral in die Zamdela-woonbuurt, waar winkels geplunder en motors aan die brand gesteek is.
Dinsdag het die situasie in die omstrede township-gebied handuit geruk toe die plaaslike polisiekantoor aangeval is. Betogers het ook probeer om 'n polisievoertuig aan die brand te steek en regeringsamptenare is met Njalas na die toneel gebring.
Die situasie is tans 'n bietjie rustiger, maar daar is steeds 'n sterk polisieteenwoordigheid in die gebied, het Mail & Guardian berig.
Die polisie het vroeër versterkings ingeroep om te help om sowat 100 polisiebeamptes, inwoners en joernaliste uit die Sasolburg-polisiekantoor te bevry, berig Times Live.
Beeld berig 'n man is Dinsdag in die oproer in die Zamdela-Sasolburg-omgewing doodgeskiet, vermoedelik toe 'n groep oproeriges 'n winkel in Sasolburg wou plunder. Verskeie mense, waaronder twee joernaliste, is ook in die geweld beseer.
Die polisie het ook aan aan Mail & Guardian bevestig dat die Zamdela-polisiekantoor aan die brand gesteek is. Die plaaslike Telkom-kantoor smeul ook.
Die polisie het 'n pad, wat lei na die sentrale sakedistrik, versper in 'n poging om te verhoed dat betogers die dorp betree. Die betogers het probeer om deur die versperring te breek, waarna die polisie rubberkoeëls afgevuur het.
Lede van die openbare orde-polisie het vroeër rubberkoeëls op die betogers gevuur en waterkanonne gebruik in 'n poging om verdere geweld te verhoed. Polisiehelikopters sirkel oor die gebied en 'n helikopter is ook gebruik om die minister te vervoer.
Inwoners betoog sedert Sondag oor die samesmelting van die Sasolburg- en Parys-munisipaliteit.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA