Saskok kry teësinnige ondersteuning
2009-11-18 08:16
Lizel Steenkamp
Kaapstad - Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het teësinnige ondersteuning uit ’n onverwagse oord gekry.
Butana Komphela, ANC-LP en vuurvreter-voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor sport, het gister toegegee die Wet op Sport en Ontspanning magtig Saskok se ingryping by Atletiek Suid-Afrika (ASA).
“Saskok het die reg om die ASA-leierskap te ontbind, maar ons sal nie toelaat dat hulle ander werknemers wat bindende kontrakte met ASA het, verneder, skors of afdank nie,” het Komphela gesê.
Dit is nie duidelik na wie hy verwys het nie omdat Saskok vroeër vandeesmaand net Leonard Chuene (president), Molatelo Malehopo (uitvoerende hoof) en vier ander senior bestuurders geskors het.
Komphela het Chuene van die eerste dag af deur dik en dun bygestaan toe die herrie rondom Caster Semenya se geslag koerantvoorblaaie gehaal het.
Opposisiepartye het Komphela herhaaldelik versoek om Chuene en ASA te ontbied om voor die portefeuljekomitee te verskyn, maar hy het botweg geweier, selfs nadat Chuene erken het hy het oor die geslagstoetse gelieg.
Komphela het voorts gesê hy is “bekommerd oor atletiek se aansien” omdat die polisie eergister moes ingryp toe Malehopo sy kantoor by ASA se gebou in Houghton gesluit en geweier het om sy skorsing te aanvaar.
“Die kwessie moet op ’n waardige wyse aangepak word sonder om die sport in oneer te bring.
“Dít wat gister (eergister) gebeur het, is sleg.”
Saskok was veronderstel om gister terugvoering oor atlete se voorbereiding vir 2012 se Olimpiese Spele in Londen te gee.
Komphela en komiteelede was oorgehaal om Saskok met vrae oor die ASA-sage te peper, maar moes uitvind dat die vergadering weens ’n administratiewe flater verkeerdelik op die agenda verskyn het.
Gideon Sam, voorsitter van Saskok, en ander bestuurslede is oorsee en sal eers volgende jaar voor die komitee kan verskyn.
“Ons sal vir hulle ’n liefdesbrief skryf en mooi vra om hier te wees,” het Komphela ’n stekie ingekry.
- Die Burger