Sascoc gaan ASA ondersoek
2009-09-19 21:43
Johannesburg - Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Sascoc) het Saterdag gesê hulle gaan die wyse waarop Atletiek Suid-Afrika (ASA) die geslagstoetse van Caster Semenya hanteer het ondersoek.
Gideon Sam, die president van Sascoc het luidens ‘n verklaring gesê hulle gaan die onlangse verlsae oor of die base van ASA wel die toetse op Semenya voor die IAAF Wêreldkampioenskappe in Berlyn verlede maand goedgekeur het, ondersoek.
Sedert haar oorwinning in die 800m-item word Semenya se geslag betwyfel.
ASA het beweer dat daar geen voorafgaande geslagtoetse op Semenya gedoen is nie. Dit het egter deur middel van ‘n e-pos aan die lig gekom dat Molatelo Malehopo, ASA se algemene bestuurder die spandokter, Harold Adams beveel het om die “die nodige toetse wat die IAAF sal benodig”, te doen.
Leonard Chuene, die president van ASA en Malehope het egter beweer hulle dra geen kennis daarvan nie.
Sascoc se ondersoek kom ook nadat Chuene erken het dat hy Suid-Afrika mislei het en dat hy wel kennis gedra het van die geslagstoetse wat op 7 Augustus uitgevoer is.
Chuene het gesê ASA het net Semenya se privaatheid op die hart gedra.
Sascoc meen egter hulle ‘n verantwoordelikheid teenoor Suid-Afrika en Semenya het om die bewerings te ondersoek.
"Caster Semenya se persoonlike belange geniet wel aandag, maar ons moet sekerheid kry oor die integriteit van die betrokke partye. En indien daar leed aan die sport gedoen is weens die gedragvan die leierskap van atletiek in Suid-Afrika, moet dit reggestel word.”
Sascoc se posisie sal bepaal word deur die resultate van die ondersoek, het Sam gesê.
- Sapa