Sanwu-afdanking eers uitgestel
2009-09-10 07:33
Jeanne-Marie Vesluis
Johannesburg - Die afdanking van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie (Sanwu) se lede weens die onlangse katastrofiese optog by die Uniegebou is vir eers uitgestel.
Sanwu het gistermiddag ’n ooreenkoms met die minister en die sekretaris van verdediging en die weermaghoof hieroor bereik en die ooreenkoms is ’n bevel van die hooggeregshof in Pretoria gemaak.
Dit bring mee dat sowat 800 lede van die unie nie ontslaan word nie hangende die afhandeling van ’n hofaansoek van Sanwu.
Die minister, die sekretaris en die weermaghoof het onderneem dat geen stappe gedoen sal word wat intussen enige voordeel waarop die unie se lede geregtig is, in die gedrang sal bring nie.
Die weermag mag voorts met goeie redes Sanwu-lede herontplooi op voorwaarde dat dié lede “geografies in dieselfde gebied bly”, lui die ooreenkoms.
Enige sodanige herontplooiing sal met die gepaardgaande voordele plaasvind. Die herontplooiing mag die neem van spesiale verlof met volle betaling en die behoud van alle voordele insluit.
Die minister, sekretaris en weermaghoof het ook twee maande tyd gekry om hul beantwoordende verklaring op Sanwu se hofstukke in te dien.
Die polisie het op 26 Augustus met donshael en rubberkoeëls op soldate by die Uniegebou losgebrand. Die hooggeregshof het vroeër dié oggend die optog onwettig verklaar.
Die hof het ook gister die aanhoor van Sanwu se hofaansoek om die afdanking van sy lede onregmatig en ongrondwetlik verklaar te kry onbepaald uitgestel.
Sanwu vra in sy aansoek die hof om die minister en weermag te belet om sy lede af te dank terwyl ’n dispuut wat hy na die militêre bedingingsraad verwys, nog nie afgehandel is nie.
Sanwu meen as die bedingingsraad nie die dispuut kan oplos nie, behoort dit na die militêre arbitrasieraad te gaan.
Adv. Pikkie Greeff, nasionale sekretaris van Sanwu, sê in hofstukke die respondente het in ’n kennisgewing van 30 Augustus die diens van tussen 400 en 1?200 soldate voorlopig beëindig sonder die nodige prose-dure.
Die soldate is gevra om hul onskuld binne tien dae te bewys, anders sou hul ontslag finaal word.
Die tien dae het gister verstryk.
Greeff sê die optog wat vir 26 Augustus beplan was, was wettig vanweë die Tshwane-metroraad se toestemming en ’n uitnodiging en goedkeuring deur die president se kantoor.
Die enigste rede waarom Tshwane toe sy magtiging teruggetrek het, was weens die respondente se inmenging, sê Greeff.
Volgens Greeff is soldate onskuldig totdat hulle skuldig bevind word. ’n Persoon is geregtig op ’n billike, administratiewe proses.
Die sogenaamde voorlopige ontslag van Sanwu-lede en ander weermaglede is onregmatig en onreëlmatig, sê Greeff.
Die betrokke weermaglede het nie ’n volle verhoor gekry nie.
Die respondente moet ook dié identifiseer wat na bewering die dag misdade gepleeg het en sulke gedrag bewys.
- Beeld