Sanef behaal oorwinning vir media in parlement
2011-02-17 08:40
Kaapstad - Die parlement is skynbaar te vinde vir ’n versoek van die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) dat joernaliste kwytgeskeld word van ’n voorgestelde wet wat Suid-Afrikaners se persoonlike inligting beskerm.
Dié wet is veral daarop gemik om bemarkers wat handel dryf in of op grond van dié inligting vas te vat.
Sanef het gesê die perskode moet eerder aangepas word. Hy het Woensdag ’n voorlegging aan die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en grondwetlike ontwikkeling gedoen.
Die voorsitter van die parlement se tegniese komitee oor die Wetsontwerp op die Beskerming van Persoonlike Inligting, mnr. John Jeffery, het gesê indien joernaliste kwytgeskeld word, sal duidelikheid verkry moet word oor vrae soos wie presies onder die definisie “joernalis” val en wat die aard van die kwytskelding is.
Hy het benadruk die doel van die wetgewing is nie in die minste ’n poging om die media te beheer nie. “Ons benodig egter dié wetgewing.”
Die DA is ten gunste daarvan dat joernaliste onvoorwaardelik uitgesluit word van die voorgestelde wet. “Suid-Afrika is een van slegs twee lande wat mediavryheid uitdruklik vervat in die reg op vryheid van spraak,” het die DA-LP me. Dene Smuts gesê.
Die adjunkvoorsitter van Sanef se komitee oor mediavryheid, mnr. Raymond Louw, het aanvanklik gesê die forum is heeltemal gekant teen die wetsontwerp omdat dit onder meer die vrye vloei van inligting sowel as die verspreiding daarvan kan beperk.
As joernaliste kwytgeskeld word, het Louw gesê, kan dit hulle straks in ’n spesiale kategorie plaas en die indruk wek dat hulle ’n status bo dié van gewone Suid-Afrikaners geniet.
- Die Burger