Sandton-paaie gesluit; sterk polisie-teenwoordigheid
2012-08-30 08:22
Johannesburg – Paaie in Sandton sal vandag tussen 13:00 en 17:00 gesluit wees vir ‘n betoging rakende die Discovery-leierskapberaad, het die Johannesburgse metro-polisie gesê.
Motoriste word aangeraai om Alice-laan en 5de straat te vermy aangesien dié paaie Donderdagmiddag afgesper sal word, het supt. Wayne Minnaar gesê.
“Betogers beplan om omstreeks 14:00 by die Alice-laan-kruisings bymekaar te kom,” het hy gesê.
Minnaar sê daar sal ‘n sterk polisie-teenwoordigheid wees.
Al Jama-ah, ‘n Moslem- politieke party, het vroeër vandeesweek gesê hy sal buite die Sandton-konvensiesentrum ‘n optog teen Tony Blair, voormalige premier van Brittanje, hou. Die beraad word hier gehou.
Ganief Hendricks, leier van die party, het gesê die betoging word gehou om ‘n lasbrief vir inhegtenisname om hom vir misdade teen die mensdom aan te kla, te ondersteun.
Hendricks sê dié beweerde misdade hou verband met die "inval in Irak, wat miljoene Irakiërs se lewens geëis het."
“Ons hoop een of meer betogers sal ‘n burgerlike inhegtenisneming op die dag kan maak en Tony Blair in die tronk sit en hom aan Den Haag [Nederland] vir ‘n verhoor uitlewer.”
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA