Samwu wil dienslewering tot stilstand bring
2011-05-10 07:00
Pretoria - Die munisipale vakbond Samwu het Maandag gesê hy gaan nie afsien van sy planne om plaaslike dienslewering Vrydag oor die land heen tot stilstand te bring nie.
Die grootskeepse ontwrigting van munisipale dienste wat reeds vandag in Bloemfontein en elders in die Vrystaat gevrees is, is eers uitgestel. Die moeilikheid hier sal waarskynlik ook Vrydag begin, berig Pieter Steyn.
Die staking is enkele dae voor die munisipale verkiesing.
Samwu-leiers het Maandagmiddag vergader en daar is vooraf bespiegel dat die vakbond onder politieke druk kan swig en die staking gaan aflas.
Walter Theledi, nasionale adjunksekretaris van Samwu, het gesê die staking gaan voort.
“Ons het vergader om ’n paar kwessies te bespreek. Dis al, ons gaan steeds staak,” het hy gesê.
Lede van die vakbond sal al Woensdag in Gauteng staak.
Samwu het besluit om te staak nadat die ANC hom vroeër daarvan beskuldig het dat hy die regering en belastingbetalers probeer gyselaar hou.
Die vakbond het intussen wel sy steun vir die ANC bevestig.
Samwu en Imatu, wat saam ongeveer 237 000 munisipale amptenare verteenwoordig, het die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plaaslike Owerhede (Salga) verlede maand in kennis gestel hulle dring aan op ’n 18%- of R2 000-verhoging (wat ook al die meeste is) vir 2011-’12.
Dié partye het in 2009 ’n driejaar-skikkingsooreenkoms aangegaan.
Aubrey Matshiqi, ’n politieke ontleder, sê die staking so kort voor die verkiesing is nie ’n verrassing nie.
“Die gaping tussen die ANC en Samwu raak al hoe wyer en daar is ’n persepsie in dié vakbond dat die Zuma-administrasie nie hou by dit wat in Polokwane op ooreengekom is nie.”
Matshiqi sê dit lyk nie of Samwu daarop uit is om die verkiesing te ontwrig nie, maar meen die vakbond stuur wel ’n duidelike boodskap aan die ANC.
Imatu het intussen gister gewaarsku hy sal Vrydag geen vorm van intimidasie teen lede duld nie.
Dié vakbond se lede sal nie aan die staking deelneem nie.
Simon Riekert, Imatu se woordvoerder, sê hoewel die vakbond ’n dispuut met die regering verklaar het, is hy daartoe verbind om die prosedure van die Bedingingsraad vir Plaaslike Regering na te kom.
“Ons gaan nie toelaat dat lede geïntimideer word nie en sal hul belange ten alle koste beskerm,” sê Riekert.
- Volksblad