Samwu-staking ‘n mislukking – DA
2011-09-01 19:57
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) se staking was grootliks ‘n mislukking en dui op tweespalt tussen vakbondbase en -lede, het die DA Donderdag gesê.
Die DA-leier in Tshwane, Brandon Topham, het munisipale werkers in die metro geprys wat gekies het om te werk eerder as om te staak in die afgelope paar weke.
“Dit was grootliks ‘n mislukking. Dit dui op tweespalt tussen uniebase en –lede oor die plek van vakbonde in die samelewing,” het Topham in ‘n verklaring gesê.
“Ons bly hoopvol dat vakbondbase die boodskap sal kry wat deur die meerderheid van hul lede gestuur is en dat verdere onderhandelings werkstoestande meer effektief as stakings, wat in niemand se belang is nie, sal verbeter.”
Samwu het Dinsdag sy twee weke lange nasionale staking beëindig.
Mthandeki Nhlapo, woordvoerder, het gesê onderhandelings oor lone met die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings sal voortduur.
Hy het gesê die besluit om die staking te beëindig is deur die spesiale nasionale uitvoerende komitee geneem omdat lede “intimidasie” in die vorm van hofinterdikte en dreigemente om afgedank te word begin ontvang het.
“Verder het die meeste lede al teruggekeer werk toe, al was sommige bereid om voort te gaan met die staking.”
Tropham het onlangse bevindinge van Adcor aangehaal en gesê dié statistieke dui op die afname van die rol van vakbondbewegings.
Luidens die studie het vakbond-litmaatskap in die afgelope dekade van 35,6 persent van alle werkers tot 24,7 persent gekrimp.
Dié afname kos vakbonde jaarliks ‘n geskatte R990 miljoen in lidmaatskapgelde wat verloor word.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA