Samwu-lede laat rommelspoor agter in Bfn
2011-08-26 08:48
Kaydene Jordaan en Pieter Steyn
Bloemfontein - Drank, dagga, pruike, knopkieries, vandalisme, vuur en rookwolke in die strate van Bloemfontein was Donderdag alles deel van die munisipale vakbond Samwu se betoging.
Byna 2 000 Samwu-lede van oor die Vrystaat heen het ’n rommelspoor in die middestad agtergelaat. Vullisdromme is van pale afgeruk, randstene is losgewoel en in die strate gegooi en brande in die middel van strate gestig.
Onder die betogers was Samwu-lede van Welkom, Bethlehem, Ladybrand en Dewetsdorp asook tientalle nasionale lede van dié vakbond, wat Ntokozo Nzuza, visepresident ingesluit het.
Die reuk van sterk drank en dagga het in die lug gehang terwyl betogers alles wat hul pad versper het aan die brand gesteek het. Van kartonbokse, papiere, ’n padversperring en vullisdromme is aan die brand gesteek.
Om elke vuur is gesing en gedans. Vryheidsliedere is gesing en aapsterte en knopkieries is rondgeswaai.
Die polisie moes met hul waterkanon die brande keer op keer blus terwyl dronk, dansendes bottels in die rigting van die geregsdienaars geslinger is en daar op hulle gevloek is.
Polisiebeamptes het gesê hulle kan nie veel doen teen die oproer en die vandalisme nie – veral nie ná die opspraakwekkende dood van Andries Tatane vroeër vanjaar in onrus op Ficksburg nie.
Smouse, winkeleienaars en -assistente het met verbasing na die betogers gestaar wat alles voor hul oë verbrand, omgeskop en afgeruk het.
Selfs voor die Bram Fischer-gebou, hoofkantoor van die Mangaung-metro-munisipaliteit, is vure aan die brand gesteek en moes die polisie weer blus.
Die uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, Thabo Manyoni, en sy raadslede het geweier om die betogers se griefskrif buite die Bram Fischer-gebou te ontvang.
Die betogers het sowat ’n uur lank op hulle gewag voordat hulle besluit het om hul staking vandag voort te sit, wanneer hulle weer sal probeer om hul griefskrif te oorhandig.
Ná hul betoging het die middestad se strate besaai gelê van papiere, gemors, halfgebrande bokse, hope hare en vrot groente en vrugte.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad