Samwu-lede kortwiek Imatu-optog
2011-08-25 13:27
Kaapstad – ’n Optog deur die Independent Municipal and Allied Trade Union (Imatu) is Donderdagoggend in die wiele gery toe vier busse vol Samwu-lede by die vergaderpunt in die Keizersgracht opgedaag het.
Ná verlede week se gewelddadige betogings in die Kaapse middestad, is ’n interdik teen Samwu verkry wat lede van dié vakbond verbied om aan optogte deel te neem. Ingevolge dié hofbevel kan Samwu-lede deur die polisie in hegtenis geneem word indien hulle die interdik verontagsaam.
Imatu het egter toestemming gekry om Donderdag te betoog.
Volgens Mark Roman, voorsitter van Imatu in die Kaapse metropool, het hulle besluit dit sal veiliger wees as hulle nié met die protesoptog voortgaan nie.
“Ons het onveilig gevoel en was bang dat ons lede deur die polisie in hegtenis geneem sal word. Ons het besluit om die staking op te skort in die belang van ons lede se veiligheid.”
Roman het gesê Imatu glo nie daarin om geweld te gebruik om loongeskille op te los nie.
Die sowat 400 Imatu-lede is vreedsaam uiteen, waarna die Samwu-lede die toneel verlaat het.
Die Suid-Afrikaans Vereniging vir Plaaslike Regering (Salga) bied ’n loonverhoging van 6,03% aan, maar IMATU eis 10%.
“Dit is ’n klap in die gesig van ons lede,” het Roman oor Salga se aanbod gesê.
Roman het memorandums oorhandig aan Wesley van Heerden, die bestuurder van arbeidsverhoudinge by die Kaapse stadsraad en aan die Salga-onderhandelaars Roger Falke en Joe Barnes.
Volg Nuus24 op Twitter.