Samrem sê ná vergadering oor klag teen Malema
2011-11-15 16:55
Johannesburg – Die SA Minority Rights Equality Movement (Samrem) sal ná Dinsdag se vergadering besluit of hy aanklagte van crimen injuria teen Julius Malema gaan laat vaar.
Samrem het op 4 November by die Mountain Rise-polisiekantoor dié aanklagte teen Malema aanhangig gemaak nadat hy op 'n saamtrek in Gauteng na Indiërs as "koelies" verwys het.
Malema sal Dinsdagaand in Pietermaritzburg met Samrem vergader, het A.K. Singh, sekretaris van Samrem, gesê.
"Wat in sy guns tel is dat hy gevra het of hy ons kan ontmoet om die saak te bespreek. Ons is beïndruk dat hy daardie stand geneem het."
Samrem het 'n paar duisend lede en hoewel Malema reeds om verskoning gevra het, moet die lede besluit of die aanklagte teen hom teruggetrek gaan word.
Die bespreking gaan verder as Malema se uitlatings.
Samrem wil ook die antagonistiese gedrag teenoor minderheidsgroepe bespreek, het Singh gesê.
Malema, afgedankte leier van die ANC-jeugliga, het nie bedoel om aanstoot te gee nie toe hy die woord “makula”, wat “koelie” beteken, gebruik het nie. Hy het ook gesê hy sal nie weer die woord gebruik om na Suid-Afrikaners van Indiese oorsprong te verwys nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA