Sakeman verdrink tydens kerkkamp
2011-10-10 09:38
Johannesburg – Die Hervormde kerk in Nelspruit is die naweek in rou gehul toe ’n lidmaat van die kerk, Henry Visser (47), tydens ’n kerkkamp verdrink het.
Die tragedie het hom Vrydag kort ná 16:00 by die Kwenadam (voorheen die Braam Raubenheimer-dam), buite Lydenburg, afgespeel.
Die kerk sou glo die naweek ’n hengelkompetisie by die dam aanbied.
Visser, ’n sakeman van Nelspruit, het met sy kano die dam ingeroei om vislyne in te neem.
Die wind het opgesteek en die golwe op die dam het sy kano sowat 150 m van die wal laat omslaan.
Hy het ’n ruk aan die kano gehang, maar later begin wal toe swem.
Van die hengelaars het hom onder die water sien verdwyn.
Die hengelkompetisie is daarna afgestel.
Lede van die polisie in Mpumalanga se duikeenheid het omstreeks 18:00 met ’n soektog na sy lyk begin.
Dié is eers Sondag omstreeks 15:00 op ’n diepte van sowat 6 m gekry.
Kapt. Pottie Potgieter, bevelvoerder van die duikeenheid, het gesê die soektog is bemoeilik omdat hulle nie geweet het presies waar Visser onder die water verdwyn het nie.
Digte watergras op die bodem van die dam het hul soektog verder bemoeilik, het Potgieter bygevoeg.
Visser se suster, Lilly van Rensburg, en sy dogter, Bea, het tydens die soektog aan wal gewag.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld