Sakeman sterf toe vragmotor hom tref
2012-01-03 09:46
Edenburg – ’n Bekende sakeman en oudpolisieman van dié dorp is Maandagoggend sowat 21 km buite die dorp op die N1 deur ’n vragmotor doodgery nadat sy bakkie langs die pad gebreek het.
Rassie Erasmus (60) was omstreeks 08:00 op pad na Bloemfontein om voorraad vir sy drankwinkel te koop toe sy bakkie langs die N1 gebreek en hy uitgeklim het.
Lt.kol. Annelie Wrensch, polisiewoordvoerder, sê ’n vragmotor van Willowton Logistics, wat van die Kaap na Johannesburg op pad was, het Erasmus getref.
Beeldmateriaal van ’n kamera vooraan die vragmotor sal hopelik meer lig kan werp op hoe Erasmus voor die vragmotor beland het. ’n Klag van strafbare mansslag word deur die polisie ondersoek.
Vriende en familie sê Erasmus het sy vrou, Hankie, gebel kort nadat sy bakkie gebreek het.
Martie Gouws, Erasmus se stiefdogter, sê hy sou iemand bel om hom te kom help, maar het nooit so ver gekom nie. Toe haar ma hom weer bel, kon sy hom nie in die hande kry nie.
Peet van Rooyen, ’n jare lange vriend, sê Erasmus se vrou en haar skoonseun, Pieter Gouws, het onderskeidelik op die N1 en die Reddersburg-pad na Erasmus en sy wit Bantam-bakkie gaan soek.
’n Polisieman-vriend van die familie wat op die ongelukstoneel was, het mev. Erasmus voorgekeer toe hy hoor sy is op die N1 op pad om haar man te soek. Hy het haar van die ongeluk ingelig.
Van Rooyen sê dit is vir hulle almal nog onwerklik.
“Dit voel soos ’n broer van my wat weg is. Ons het jare lank saam gholf gespeel en op toere gegaan. Hy was só ’n opgeruimde pel. Niks was te veel moeite vir hom om iets vir iemand anders te doen nie.”
Erasmus het ’n seun, Louis (37), van Johannesburg, en ’n dogter, Anne-Marie (32), van Bloemfontein, uit ’n vorige huwelik. Hy het ook drie kleinkinders. Sy vrou, Hankie, het ook drie kinders uit haar vorige huwelik.
Erasmus was ’n boorling van Philippolis en voorheen ’n offisier (lt.kol.) in die polisie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad