Sakeman soek Gandhi se huis
2009-08-03 06:55
Altesame R2,25 miljoen vir Mahatma Gandhi se stokou huis in Orchards, Johannesburg.
Dít is wat mnr. Pradeep Bhavnani, ’n Indiese sakeman, aanbied.
Luidens ’n artikel in die Indiese dagblad Mid Day het Bhavnani in ’n brief aan die Indiese president gesê hy sal die huis aan die Indiese regering skenk nadat hy dit gekoop het.
Bhavnani het egter sterk kompetisie. Mense stroom glo na Johannesburg vir die kans om die huis te besit waar Gandhi van 1908 tot 1910 gewoon het.
Gandhi, wat dikwels in Indië beskou word as die vader van die nasie, het in 1893 na Suid-Afrika gekom en as ’n prokureur gewerk.
Die huis is deur een van Gandhi se vriende, mnr. Hermann Kallenbach, gebou en staan as Die Kraal bekend. Van buite lyk dit nie of die huis op ’n tyd aan dié belangrike man behoort het nie. Daar is ook Suid-Afrikaanse dekor-elemente teenwoordig soos die twee grasdakrondawels en die groot stoep.
Die huidige eienaars, mnr. Jarrod en me. Nancy Ball, het 28 jaar in die huis gewoon. Hulle wil na Kaapstad verhuis om nader aan hul kinders te wees.
Volgens me. Ball (55), ’n Amerikaans gebore kunstenaar, is daar ’n soort towerkrag aan die huis. “Ek word party oggende wakker en vergeet ek is in Johannesburg. Ons voel baie veilig hier,” het sy aan die Indiese koerant The Hindu gesê.
Volgens Nancy is hulle heeltemal oorweldig oor die belangstelling in die huis en het hulle al ophou tel hoeveel oproepe van belangstellendes hulle ontvang het.
Hulle het al selfs die hulp van prof. Stephen Gelb van die sentrum van Indiese studies aan die Universiteit van Witwatersrand ingeroep om te help om die regte koper te kies.
Nancy het gesê sy sal graag eendag die huis as ’n museum wil sien.
– Sapa, AFP