Sakeman, seuns vas vir moord-sameswering
2012-01-29 16:02
Johannesburg – ‘n Sakeman van Swale naby Burgersfort is saam met sy drie seuns in hegtenis geneem nadat hulle na bewering saamgesweer het om ‘n prominente plaaslike inwoner te vermoor, het die polisie in Limpopo Sondag gesê.
Volgens brig. Hangwani Mulaudzi is die 51-jarige man Saterdag by sy huis in hegtenis geneem, terwyl sy drie seuns en twee werknemers gedurende die dag elders in hegtenis geneem is.
Plaaslike inwoners het die 51-jarige man verlede jaar daarvan beskuldig dat hy ‘n rituele moord gepleeg het. Hy het toe na bewering sluipmoordenaars probeer huur om die man wat die plaaslike inwoners teen hom gemobiliseer het, dood te maak.
“Op 23 November verlede jaar het James Tebele (48) vermis geraak. Sy ontbinde liggaam is op 30 November gevind.
“Die gemeenskap het toe die sakeman aangeval, aangesien hy glo die laaste persoon was wat saam met die slagoffer gesien is. ‘n Brand is by sy huis gestig en een van sy winkels is met klippe bestook.”
Beamptes van misdaadintelligensie het ‘n lokval gestel en hul as sluipmoordenaars voorgedoen. ‘n Vuurwapen en R2 000 is aan hulle gegee. Die ses is toe in hegtenis geneem.
Hulle sal na verwagting Maandag in die Burgersfort-landdroshof verskyn op aanklagte van sameswering om moord te pleeg.
Die polisie wag nog op die uitslae van ‘n forensiese ondersoek ná Tebele se lyk gevind is.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA