Sakeman koelbloedig vermoor
2011-12-06 08:01
Senekal – Skok en ongeloof heers sedert die naweek op dié dorp nadat ’n bekende sakeman koelbloedig hier doodgeskiet is.
Tony Goncalves (48), eienaar van Hi-Q en Meyers Supermarket, is Sondagaand vermoedelik in sy kombi geskiet nadat hy sy kafee in Voortrekkerstraat gesluit het.
’n Vriend van Goncalves, José Jardim, sê vyf rowers het vermoedelik vir Goncalves in sy kombi gewag wat agter die winkel gestaan het.
Toe hy inklim, het hulle ’n pistool teen sy nek gedruk. “Ek vermoed hulle wou hê hy moes na sy huis toe ry,” het hy gesê.
Jardim sê Goncalves het vermoedelik met sy kombi teen die muur vasgery om hulle af te skrik, waarna hulle hom in die nek geskiet het. ’n Ooggetuie wat die skoot gehoor het, het kort daarna die rowers sien weghardloop en die polisie ontbied. Dit is nog nie seker hoeveel geld weg is nie.
Goncalves het glo daarna nog uit die kombi geklim, maar het kort daarna inmekaargesak. Hy is op die toneel dood.
“Ek het al hoeveel keer vir hom gesê om sy kombi voor die winkel te parkeer, maar hy het aanhou sê dit is die kliënte se parkeerplek,” het Jardim gesê.
Jardim en Goncalves is sedert 1988 vriende en het saam op Senekal aangekom. “Woorde kan nie beskryf hoe ek voel nie. Hy sou nie ’n vlieg seermaak nie,” het ’n gebroke Jardim gesê.
J.P Nilson, bestuurder van Hi-Q, sê die personeel is baie terneergedruk oor sy dood.
Jan du Preez, voorsitter van Senekal se sakeforum, sê hy was baie geskok toe hy Maandagoggend van Goncalves se dood hoor.
“Hy is al baie jare op die dorp. Hy was ’n ou met ondernemingsgees. Ek was absoluut platgeslaan toe ek vanoggend van sy dood hoor. Hy het homself opgewerk van niks af. Ons gaan hom mis,” het hy gesê.
Du Preez sê hy het nie ’n idee wat van die spog-winkelsentrum gaan word wat Concalves besig was om te bou nie.
Goncalves se dogter, Sonia, het Maandagoggend op haar Facebook-profiel geskryf, “My liefdevolle pa, ek vra dat jy in vrede sal rus en dat jy omring is met die engele van God en Sy hand ons lei wanneer jy nie hier by ons is nie. Ek is baie lief vir jou pa en ek sal jou baie baie mis!!”
Goncalves word oorleef deur sy vrou, Christine, hul drie kinders, Michael (12), Carina (16) en Sonia (19), asook sy ouers, vyf broers en ’n suster.
Kapt. Phumelelo Dhlamini, polisiewoordvoerder, sê die moord word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Hy vra dat enigiemand met inligting a.o Hendrik Coetzee by 082-799-1000 sal bel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad