Sakeman in motor vermoor
2009-08-05 13:18
Johannesburg – Die besturende direkteur van Protea Coin is dood nadat ‘n man wat ‘n juwelierswinkel wou roof, hom geskiet het.
‘n Koeël het die 37-jarige Jaco Pretorius deur die agterruit van sy Toyota Prado in sy sy getref terwyl hy op die Nellmapius-afrit gery het. Hy is op die toneel dood.
Die koeël het sy kollega, wat op die agtersitplek gesit het, net-net gemis.
Die man wat hom geskiet het is een van drie mans wat ‘n Sterns-winkel in die Irene Village-inkopiesentrum wou beroof.
Dié rooftog is deur ‘n sekerheidswag wat verby die winkel gestap het, onderbreek.
Protea Coin-sekerheidswagte en sekerheidswagte van die inkopiesentrum het toe dié trio agternagesit.
“Hy was ‘n wonderlike mens en ‘n uitstekende speurder,” het dir. Sally de Beer, nasionale polisiewoordvoerder, gesê.
Pretorius is ‘n oud-speurder en kollega van de Beer.
Hy word deur sy vrou en twee seuns oorleef.
De beer het gesê ‘n man is in hegtenis geneem, maar sy wou nie verdere inligting bekendmaak nie omdat die ondersoek in ‘n “kritieke stadium” is.
Pretorius se kollega ontvang traumabehandeling.
Sapa