Sakeman het bejaardes nie bedrieg, sê hof
2010-05-15 13:34
Vania van der Heever, Die Burger
Kaapstad - Heinre Rademan (40) is Vrydag onskuldig bevind op aanklagte dat hy ’n bejaarde egpaar uit R4,5 miljoen bedrieg het.
Rademan, ’n sakeman van Somerset-Wes, het in die handelshof in Bellville tereggestaan op aanklagte van bedrog (alternatiewelik diefstal), geldwassery en vervalsing van handtekeninge nadat hy na bewering Klaus Borngraber en sy vrou, Laureen, se handtekeninge vervals het om ’n huisverband van R4,5 miljoen te kry.
Laureen ly aan alzheimersiekte.
Landdros A. Chabillal het gesê die staat kon nie die aanklagte teen hom bewys nie.
“Die staat het getuies geroep, maar niemand kon bewys dat Rademan skuldig op die aanklagte is nie.
“Die hof het gehoor die Borngraber-egpaar het gereeld geld weggegee.
“Hulle was dwaas wanneer dit by hul geld gekom het.”
Twee van die staat se hoofgetuies se getuienis was boonop teenstrydig.
“Een van die staatsgetuies was ’n handskrifdeskundige wat gesê het die handtekeninge op die volmag en ander dokumente is vervals, terwyl die ander getuie, ’n kommissaris van ede, getuig het dat Laureen dié dokumente voor hom onderteken het.”
Die ondersoekbeampte het getuig dat geld uit Laureen se rekening eers na dié van haar man en daarna na Rademan se rekening oorgeplaas is.
Chabillal het gesê die staat het nie vroeër aan die hof genoem dat die geld eers na Klaus se rekening oorgeplaas is nie.
“Niemand kon bewys dat Klaus ongeskik is om na sy geldsake om te sien nie.”
Volgens Chabillal het Rademan wel voordeel uit die bejaarde egpaar se geld getrek, maar die aanklagte teen hom kon nie bewys word nie.
Rademan het ná die verhoor gesê hy wil net sy naam skoon hê en met sy lewe aangaan.
- Die Burger
Volg Nuus24 op Twitter.