Sakeman byna dood toe hy inbreker betrap
2011-08-23 07:06
Welkom – ’n Sakeman van Welkom het ternouernood aan die dood ontkom toe hy die naweek in sy huis met ’n stel biefstukmesse aangeval en verskeie kere gesteek is. Een van die lemme het in sy bors, tussen sy hart en longe, afgebreek.
Pieter Ludick (46) was Maandag nog in die intensiewesorgeenheid van Mediclinic Welkom waar hy vir verskeie steekwonde behandel word. Benewens die ernstige meswond in sy bors wat sy organe net gemis het, het hy verskeie ander steekwonde in sy bors, arms en onderkant van sy kakebeen opgedoen en die bokant van sy linkeroor is afgesny.
Ludick sê hy het Saterdag ná middernag tuis gekom en gesien sy televisiestel is weg.
“Ek was dadelik geskok en kwaad en voordat ek nog behoorlik tot verhaal kon kom, het ek my in die gang in die aanvaller vasgeloop. Ek vermoed die ander het reeds gevlug toe ek by die huis stilhou.
“’n Hewige worsteling het tussen ons uitgebreek en dit is in die kombuis voortgesit. Daar het hy die biefstukmesse een vir een uit die rakkie op die kombuiskas gevat en my begin steek.
“My dik hemp het die meeste meshoue afgeweer en minstens drie van die messe se lemme het van die handvatsels afgebreek. Die vierde een het in my bors afgebreek en nog een het ons later gebuig in die kombuis gekry.”
Ludick sê hy het aanhou terugbaklei en die aanvaller het later vir hom in Engels gesê hy is nie daar om hom dood te maak nie. As Ludick hom los, sal hy dadelik padgee. Hy het deur die venster ontvlug waar hulle ingebreek het.
Ludick sê hy het ’n hele ruk erg deurmekaar op die vloer bly lê, maar later besef dat daar baie bloed is. Hy het sy selfoon by hom gehad en ’n buurman gebel. Hy het toe reeds soveel bloed verloor dat hy met moeite die deur kon oopsluit en het daar weer inmekaargesak voordat die ambulans opgedaag het. “Ek is baie dankbaar en gelukkig dat ek nog leef. Van nou af sal die veiligheidstelsel by my huis beslis verbeter word.”
Sy groot TV en van die juwele is weg, ’n ander TV het stukkend in die gang gelê en daar is ook probeer om by sy kluis in te breek.
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad