Sake teen ANCYL
2009-08-03 12:12
Johannesburg- Die Demokratiese Alliansie (DA) het amptelike klagtes gelê teen die leierskap van die ANC -jeugliga (ANCYL), asook teen die bestuursraad van Lembede Investment Holdings.
“Die ANCYL probeer hard om die bevindinge van die Gobodo-verslag te versteek,” het Jack Bloom, die voorsitter van die DA in Gauteng, Maandag in ‘n verklaring gesê.
Dit kom nadat die Sunday Times ‘n artikel gepubliseer het waarin die bevindinge van ‘n verslag deur die ouditeursfirma Gobodo bekend gemaak is.
Dié verslag het glo inligting bevat oor die finansies van Lembede.
Volgens dié artikel moet senior jeugliga-lede verantwoordelik gehou word vir die miljoene rande wat vanaf Lembede vermis word.
Maar die jeugliga het besluit om nie individuele persone te teiken nie.
Volgens Bloom het hulle Sondag amptelike klagtes by die polisiestasie in Johannesburg ingedien.
– Sapa