Sadou se ontwrigting nou verbied
2010-09-20 08:11
Die Gautengse onderwysdepartement het Sondagmiddag laat ’n dringende interdik in die arbeidshof gekry om die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) te verbied om voort te gaan met planne om die komende matriekeksamen op enige manier te ontwrig.
Charles Phahlane, onderwyswoordvoerder, het by navraag gesê dit het die onder die departement se aandag gekom dat die vakbond planne het om die eksamen te ontwrig.
’n Vergadering is deur Sadou vir 10:00 vanoggend by die Regina Mundi-kerk in Soweto beplan om die ontwrigtings te bespreek.
Die departement het opnuut beklemtoon dat ontwrigting van die eksamen nie geduld kan word nie en dat daar ’n dringende beroep op skole, onderwysers en die publiek gedoen word om te help verseker dat die eksamens suksesvol afgehandel kan word.
Ronald Nyati, sekretaris van Sadou in Gauteng, het nie sy telefoon geantwoord nie.
Nomusa Cembi, woordvoerder van Sadou, het gesê hulle het deur die media gehoor van die vergadering in Soweto en is nie self daarvan ingelig nie.
Sy het gesê dit dra nie Sadou op nasionale vlak se goedkeuring weg nie.
“Ons sal daarop ingaan,” het sy gesê.