Saambly ís uit, sê dié kerke
2009-12-12 06:45
Daniëlla du Plooy
Johannesburg - Saamwoon is steeds verkeerd, sê die NG Kerk.
Die kerk het gister in ’n verklaring gesê dit is steeds nie ’n aanvaarbare alternatief vir die Christelike huwelik nie.
Bespiegelinge oor die moontlikheid dat dié kerk sy beleid oor saambly en seks slegs binne die huwelik gaan hersien, het die afgelope twee weke die ronde gedoen.
Kerkbode, die kerk se publikasie, het onder meer in sy jongste uitgawe berig oor ’n nuwe studie wat onderneem word, met die opskrif “NGK gaan nadink oor saambly”.
’n Lewendige debat het die afgelope week oor die saak op Beeld se brieweblad gewoed.
Die moderatuur van die algemene sinode het egter gesê hy “herbevestig” die standpunt dat slegs die liefdesverbintenis tussen een man en een vrou wat volgens kerklike en wetlike voorskrifte in ’n huwelik bevestig is, uitdrukking gee aan die NG Kerk se siening van ’n huwelik.
“Ons is daarvan oortuig dat volle geestelike en seksuele gemeenskap tussen ’n man en ’n vrou in die huwelik tuishoort.”
Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) het op sy beurt gesê daar is nie eens ’n bespreking oor saamwoon in dié kerk nie.
Prof. Koos Vorster, dosent in Christelike etiek aan die Teologiese Skool Potchefstroom, het gister by navraag gesê dié kerk se siening oor ’n huwelik word ook in die huweliksformulier vervat.
“Seksualiteit is veilig binne die grense van die huwelik en moet slegs daar plaasvind.”
Volgens Vorster is sy ervaring dat die meeste mense wat saambly, bloot nie bereid is om die verbintenis van ’n huwelik te maak nie.
Maar die NG Kerk gee toe die kwessie is meer ingewikkeld as dit. “Ons is daarvan bewus dat daar tans vrae rondom aspekte van huweliksluiting is wat nuwe kerklike besinning vra en duidelike antwoorde soek,” lui die verklaring.
Die moderatuur wys byvoorbeeld uit dat dit ’n vraag by sommige is of die erkenning van sowel staat as kerk by huweliksluiting nodig is.
“Daarby wil sommige weet of die vaste oortuiging dat hulle later gaan trou nie aan paartjies die reg gee om voorlopig saam te woon nie, of dat ’n gesamentlike belofte van trou voor God en sonder getuies uit die kerk of staat nie ook huweliksluiting kan beteken nie.”
Die kerk verwys ook na pensioentrekkers wat byvoorbeeld wil trou, maar dit sou beteken een van die partye kan bepaalde pensioenvoordele verloor.
Die kerk sê die blote feit dat ’n taakspan van die algemene sinode dié sake ondersoek, beteken egter nie ’n bevraagtekening van die huwelik as instelling nie.
Die kerk “betreur” luidens die verklaring die “krasse openbare uitsprake van mense in die pers wat, sonder om seker te maak van hierdie feite, die NG Kerk onder verdenking plaas”.
Die moderatuur glo die finale woord daaroor lê in die Bybel.
“Daar dien nog geen voorstel oor hierdie saak, of enige saak wat hiermee verband hou, voor die moderamen van die algemene sinode nie. Enige ingrypende besluit wat oor hierdie saak geneem word, kan slegs deur ’n algemene sinode geneem word.”
Die volgende algemene sinode vergader in Oktober 2011.
- Beeld