Saak teen voormalige Landbank-hoof uitgestel
2012-01-31 11:00
Johannesburg – Die saak teen die voormalige hoof van die Landbank, Philemon Mohlahlane, wat tereg staan op aanklagte van bedrog en vervalsing, is tot April uitgestel.
Die saak is Maandag in die hof vir gespesialiseerde handelsmisdaad in Pretoria tot 18 April uitgestel, het Business Report berig.
Die staatsaanklaer, Dries van Rensburg, het versoek dat die saak uitgestel word sodat hy ‘n verslag van ‘n rekenaar-kenner kan bestudeer.
Mohlahlane, die voormalige LUR vir behuising Daniel Mofokeng en Matuba Maponya is in Maart verlede jaar deur die Valke in hegtenis geneem en word aangekla van verduistering van R19 miljoen van die Landbank se AgriBEE-skema.
Mohlahlane is ook later daardie maand weer in hegtenis geneem op aanklag dat hy vals senior-kwalifikasies gebruik het om winsgewende poste in die regering te verseker.
Hy het beweer dat hy sy tersiêre kwalifikasies in die VSA en in Europa gekry het, maar ondersoekbeamptes het bevestig dat hy in 1974 matriek in Mamelodi gedop het.
Die aanklagte teen ‘n vierde beskuldigde, Khutso Mosoma, is teruggetrek, sonder dat die staat redes verskaf het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA