Saak teen Bredasdorp-beskuldigdes uitgestel
2013-02-12 10:40
Kaapstad – Twee mans wat van die verkragting en moord op die 17-jarige Anene Booysen aangekla word, het Dinsdag vlugtig in die Bredasdorp-landdroshof verskyn.
Die saak teen Johannes Kana (21) en sy beweerde medepligtige Jonathan Davids (22) is tot 26 Februarie uitgestel. Hulle sal tot dan in aanhouding bly.
Lulu Xingwana, minister van vroue, kinders en mense met gestremdhede, het die hofverskyning bygewoon.
"Die minister het haar oproep benadruk dat diegene wat vir die wreedheid verantwoordelik is, die swaarste moontlike straf opgelê moet word," het Cornelius Monama, die minister se woordvoerder, in 'n verklaring gesê.
Xingwana het 'n beroep op die publiek gedoen om te help om misdade teen vroue en kinders te bestry.
Anene is om die beurt verkrag en vermink nadat sy by 'n kuierplek was. Sy is by die Asla-bouterrein, waar sy gewerk het, gevind, maar het later in die hospitaal gesterf.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het gesê die saak sal in 'n latere stadium na die hooggeregshof verwys word. Hy het gesê die staat sal borgtog teenstaan.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA