SANW se wiele is pap
2010-12-03 06:43
Kaapstad - Voertuie en toerusting van die Suid-Afrikaanse Weermag is só verouderd dat die Verenigde Nasies (VN) sy finansiering gestaak het omdat dit nie aan internasionale standaarde voldoen nie.
Luidens ’n geheime verslag oor die werktoestande van soldate wat die afgelope week uitgelek het, is die meeste toerusting onbetroubaar of het in onbruik verval, terwyl weermagvoertuie te oud is om versien te word.
Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, het die afgelope jaar reeds probeer om die inhoud van die verslag, wat veral kritiek uitspreek oor die toestand waarin soldate woon en werk, geheim te hou.
Die verslag is deur ’n tussentydse militêre dienskommissie (MDK) saamgestel ná ’n jaar lange ondersoek na die stand van die weermag.
In die verslag word ook op die volgende gewys:
* Die begroting wat vir die weermag bewillig word, is hopeloos ontoereikend. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat weinig nuwe toerusting sedert 1994 aangekoop kon word.
* Die ouderdom van die weermag se toerusting en voertuie kan Suid-Afrika se gevegsgereedheid en die weermag se vermoë om vrede en bestendigheid binne die landsgrense te handhaaf, belemmer.
* Dié gebrek aan operasionele vermoëns sal Suid-Afrika se beeld in die buiteland – en veral in die res van Afrika – erg skaad, terwyl die weermag ook nie in staat sal wees om aan vredesoperasies in die buiteland te kan deelneem nie.
* Die weermag se operasionele begroting word nie gebruik vir kapitaalbesteding nie, maar dikwels om gehawende infrastruktuur op te knap.
Die MDK het in sy verslag veral kritiek gelewer op die departement van openbare werke se “voortdurende onvermoë” om weermagbasisse behoorlik op te knap en te onderhou.
“Selfs al is geld van die departement van verdediging beskikbaar gestel, het die departement van openbare werke nie sy verpligtinge nagekom nie.”
Die MDK het aanbeveel dat die departement van verdediging voortaan self eienaarskap van die herstel en instandhouding van infrastruktuur en toerusting moet neem sodat hy nie op die departement van openbare werke daarvoor aangewese is nie.
David Maynier, DA-LP en lid van die portefeuljekomitee oor verdediging, het in reaksie daarop gesê die agterstand met instandhouding- en onderhoudswerk in die weermag word op R13miljard geraam.
“Die departement van openbare werke het die weermag in die steek gelaat omdat hy nie militêre basisse behoorlik onderhou nie.
“Dié departement is onregstreeks verantwoordelik vir die lae moreel onder ons soldate,” het Maynier gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger