SAVR-werkers staak
2011-11-23 19:55
Johannesburg – Werkers by die Suid-Afrikaanse Raad van Verpleërs (SAVR) het Woensdag begin staak.
Hulle dring aan op ‘n 10.5% salarisverhoging.
‘n Groep van sowat 50 werkers het buite die SAVR-kantore in Leyds-straat in Pretoria betoog.
Daar was ‘n sigbare polisieteenwoordigheid, maar een van die polisiebeamptes het gesê dat die betoging vreedsaam verloop het.
Volgens Mabhelandile Bibi, voorsitter van Nehawu (National Education Health and Allied Workers’ Union) SAVR in Pretoria, neem sowat 120 werkers aan die staking deel.
Die werkers is ‘n verhoging van 7% aangebied, het Bibi gesê.
Die sekretaris van die SAVR, Tendani Mabuda, sê hy is onder die indruk dat Nehawu ‘n verhoging van 8.75% eis, en nié 10% nie.
“Hierdie geskil kom al ‘n lang pad en dit het verreikende gevolge.
“Ons was onlangs by die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (CCMA), maar kon nie ‘n oplossing vind nie,” het Mabuda gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA