SAUK-nuus ‘te koop’
2010-09-01 06:29
Kaapstad – Die SAUK is opnuut in die spervuur ná bewerings dat hy provinsies genader het om vir nuusdekking op ’n aktualiteitsprogram te betaal.
Niekie van den Berg, DA-woordvoerder oor kommunikasie, het gister in ’n verklaring gesê die SAUK het die Wes-Kaapse regering genader om te betaal vir nuusdekking op die program Interface, wat oor die onderskeie provinsies se suksesvolle aanbieding van die Wêreldbeker-sokkertoernooi gehandel het.
Die SAUK het dié aantygings egter ten sterkste ontken en gesê die DA mislei die publiek.
In ’n dokument wat op die DA se webwerf verskyn het, blyk dit die SAUK het aangebied dat die Wes-Kaapse regering ’n tydgleuf op die program Interface kry in ruil daarvoor dat hy die SAUK se produksiekoste vir die program betaal.
Dít beloop R217 756,85 en sluit in:
* die betaling van ’n vryskut-joernalis – R8 600;
* huur van toilette en steierwerk – R15 500;
* spyseniering – R10 000;
* reiskoste – R65 716;
* huur van voertuie; en
* huur van toerusting – R35 000.
Van den Berg het gesê dit is skandelik dat die SAUK verwag dat ’n provinsiale regering hiervoor betaal terwyl hy Interface bemark as ’n ontledende program wat moet bydra tot die politieke diskoers in Suid-Afrika.
“Dit is duidelik dat hierdie aanbod ook aan ander provinsies gedoen is,” het Van den Berg gesê.
Die SAUK het egter teruggekap en in ’n verklaring gesê die DA het “in beginsel” ingestem om saam met die SAUK so ’n “spesiale eksterne produksie” aan te bied.
“Dit het niks te doen met die verkoop van nuus nie.”
Nick Clelland-Stokes, direkteur van kommunikasie in die Wes-Kaapse regering, het heftig ontken dat die provinsie hoegenaamd die SAUK-aanbod oorweeg het. “Absoluut nie. Buitendien het die Wes-Kaapse regering ’n moratorium op advertensiekoste en as ons die SAUK se aanbod aanvaar het, sou ons die verbod oortree het.”
* Dié aantygings is die jongste in ’n reeks krisisse waaronder die openbare uitsaaier gebuk gaan. Die SAUK is in ’n reuse- finansiële verknorsing. Dit is ook te wyte aan die interne struwelinge tussen die SAUK-raad en -bestuur dat daar nog nie ’n behoorlike omdraaistrategie vir die geldprobleme bedink is nie.
Sake is verlede week op die spits gedryf toe die raad die SAUK-groephoof, Solly Mokoetle, geskors het hangende die uitslag van ’n tugverhoor.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger