SAPD sal voortbou op WB se sukses
2010-07-14 15:00
Johannesburg – Die polisie sal sekuriteit in die land op die Wêreldbeker-standaard hou nadat dié toernooi Sondag tot ‘n einde gekom het, het genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, Woensdag gesê.
Alhoewel polisiëring, soos dit tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi was, nie moontlik sal wees nie, sal die polisie steeds dié standaard behou.
Cele en sy adjunk, Fikile Mbalula, het Woensdag namens die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) ‘n toekenning ontvang tydens Primedia se “Star of the Star”-toekennings.
Hierdie toekenningsgeleentheid vind elke maand plaas en gee erkenning aan polisielede wat uitstaande werk lewer.
“Ons sal nie weer die misdaadsvlakke hê wat ons voor die toernooi gehad het nie. Suid-Afrikaners het die reg om veilig te wees,” het Cele gesê.
“Suid-Afrikaners wil nie net sit en kyk hoe buitelanders ‘n veilige en beter land ervaar as hulle self nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA