SAPD pos hoës teen R31 m.
2011-09-16 09:03
Kaapstad. – Die polisiediens het die afgelope twee boekjare meer as R31 miljoen bestee om van topbestuurslede ontslae te raak.
19 bestuurders, onder wie vier afdelingskommissarisse en 12 generaals-majoor, is om ekonomiese redes en in belang van die polisiediens sedert 1 April 2009 tot 31 Maart vanjaar ontslaan.
Die jongste lid was 40 jaar ten tyde van ontslag en nie een van die res was ouer as 59 jaar nie. Die diensbeëindigingspakkette het R31 207 441 gekos, het Nathi Mthethwa, minister van polisie, Donderdag gesê in antwoord op ’n geskrewe vraag van Sindi Chikunga (ANC).
Mthethwa het in antwoord op ’n ander vraag van die DA gesê hy het die afgelope boekjaar 57 plaaslike vlugte en een oorsese vlug na Katar in die uitvoering van sy pligte onderneem.
Hy het meestal in besigheidsklas gevlieg, maar nie gesê teen watter koste nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger