SAPD-hoë vry na aanrandingsklag
2009-08-24 17:20
Johannesburg - ‘n Senior SAPD-superintendent is Maandag met ‘n waarskuwing huis toe na sy verskyning in die hof.
Johannes Andre Dawson het na bewering 'n vroulike Ekurhuleni metropolisielid aangerand.
Dawson is Sondag in hegtenis geneem nadat hy vermoedelik vir Mapule Podile geklap het.
Sy was besig om vir Dawson se dogter ‘n boete uit te skryf voordat hy haar glo bygedam het.
Volgens Mveli Nhlapo, woordvoerder vir die Ekurhuleni metropolisie, het Podile ‘n grys Hyundai Atos afgetrek toe die motor oor ‘n stopstraat gery het.
Die motor behoort aan Dawson se dogter.
Podile het die bestuurder uitgevra hieroor, maar hy het nie geantwoord nie. Dawson se dogter, wat in die passasiersitplek was, het Podile toe na bewering gevra hoekom hulle nie taxi’s aftrek nie.
Sy het toe glo vir Podile beledig en gesê dat haar pa ‘n grootkop in die polisie is.
Podile het toe ‘n boete oor ‘n kraak in die motor se voorruit uitgeskryf, waarna Dawson haar pa gebel het.
Met blou ligte en sirenes wat blêr, het Johannes Andre Dawson toe met ‘n ongemerkte staatsvoertuig opgedaag.
Dawson wou weet hoekom sy dogter beboet word, en voordat Podile kon reageer, het hy haar na bewering geklap.
“Die superintendent het die offisier glo ‘n “black b**ch” genoem terwyl hy haar aangerand het.
Sy het onmiddellik die polisie laat roep,” het Nhlapo gesê.
Dawson is in hegtenis geneem vir aanranding en minagting van die gereg.
- Sapa