SAMRK ondersoek kleurling-rubriek
2011-02-28 15:48
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ondersoek 'n klag oor 'n rassistiese rubriek oor kleurlingmense wat deur die Sunday World-rubriekskrywer Kuli Roberts geskryf is.
"Ons het vanoggend (Maandag) 'n formele klag oor die rubriek ontvang," het Vincent Moaga, woordvoerder van die SAMRK, gesê.
"Ons sal daarna kyk, die saak assesseer en kyk hoe om dit te hanteer."
Moaga kon nie sê wie die klag ingedien het nie.
In haar rubriek, Jou ma se kinders, wat in Sunday World verskyn het, sê Roberts hoekom sy na Kaapse kleurlingvroue verlang.
"Jy sal altyd verseker wees van 'n groot gesin; baie van die meisies teel asof Allan Boesak hulle gestuur het om die kleurlingras te vermeerder.
"Hulle hoef ook nie duisende rande vir hul hare uit te haal nie; baie van hulle het lang gladde hare...
"Hulle het geen voortande nie en eet vis asof hulle die see gaan uitput."
Sy het verder gesê: "Natuurlik mis ek Kaapse kleurlingmense. Watter ander ras wat jy ken is meer behep met naai masjiene, o, en ek bedoel nie naaimasjiene nie."
Roberts se rubriek kom te midde 'n storm oor opmerkings wat Jimmy Manyi, hoofregeringswoordvoerder, oor kleurlinge gemaak het.
Manyi het in Maart 2010 tydens ‘n onderhoud op KykNet se Robinson Regstreeks gesê daar is te veel bruinmense in die Wes-Kaap. Hy was toe nog direkteur-generaal van arbeid.
Hy het intussen om verskoning gevra vir dié opmerkings.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA