SAMRK ondersoek hospitale in Mpumalanga
2012-11-07 13:15
Johannesburg – Die Demokratiese Alliansie se klagte oor die toestand van 32 hospitale in Mpumalanga sal deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ondersoek word.
Eric Mokonyama, provinsiale bestuurder van die SAMRK, het in 'n brief aan James Masango, DA-woordvoerder oor gesondheid, gesê hy onderneem om die toestand van die hospitale te ondersoek.
Masango het gesê die klag is verlede Dinsdag by die SAMRK ingedien.
Die DA is bekommerd oor 'n moratorium op die aanstelling van personeel, tekorte aan dokters, onvoldoene instandhouding en infrastruktuurontwikkeling by die hospitale.
Masango het David Mabuza, premier van Mpumalanga, se voorneme om die hospitale te besoek, verwelkom. Mabuza het gesê werknemers wat versuim om hulle pligte uit te voer, sal afgedank word.
Masango het gesê die DA bevraagteken egter die motiewe vir Mabuza se "skielike belangstelling".
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA