'SAKP wil nie ANC oorneem'
2009-12-16 11:17
Johannesburg - Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) probeer nie die ANC oor te neem nie.
Só het Buti Manamela, leier van die Jong Kommunisteliga (YCL) Woensdag gesê.
"Daar is geen plan om die ANC te probeer oorneem nie. Dit was nog nooit die mandaat of 'n oorweging dat Blade Nzimande (SAKP-voorsitter) die land se adjunkpresident moet word nie," het Manamela aan Talk Radio 702 gesê.
Hy het gesê hierdie aantygings is bloot pogings om 'n oorlog tussen alliansievennote aan te vuur.
Manamela het gesê die alliansievennote sal altyd mekaar probeer beïnvloed, maar die "ANC neem altyd besluite met die verstandhouding dat hulle die leiding moet neem."
Hy het bygevoeg die uitjouery van ANC-lede, waaronder Julius Malema, by die SAKP se kongres verlede week verkeerd was en nie moes gebeur het nie.
Manamela het erken dat hy ook 'n rol kon gespeel het in die aanvuur van die gesprek oor "oorlog" tussen die SAKP en die ANC, en dat dit tyd is om verantwoordelikheid te neem.
"Ek is self nie onskuldig nie... Dis tyd om verantwoordelik op te tree - vir ons almal - om te erken ons het 'n rol gespeel. Want die gepraat van oorlog help niemand behalwe ons teenstaanders nie.
- Sapa