SAKP soek media-tribunaal
2010-07-20 08:20
Die Burger
Kaapstad - Die SAKP gaan die ANC se tussentydse nasionale konferensie in September amptelik versoek om ’n onafhanklike mediatribunaal op die been te bring.
Dié party het Maandag in ’n verklaring herhaal selfregulering werk nie en dat transformasie van die media vinniger moet gebeur.
Dit volg op dr. Blade Nzimande, SAKP-leier, en Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, se skerp aanvalle op die media onlangs, asook die tertafellegging van die voorgestelde Wet oor die Beskerming van Inligting.
Dié wet lok wye kritiek uit omdat dit volgens kenners inbreuk sal maak op persvryheid, die regering wye en ongedefinieerde magte gee en buitengewoon swaar strawwe aan oortreders oplê.
Die SAKP en die South African National Civic Organisation (Sanco) spreek hulle in geskrewe voorleggings aan die parlement sterk uit ten gunste van die wetsontwerp.
Beide meen die wet sal demokrasie versterk omdat dit sensitiewe staatsinligting uit die hande van boosdoeners sal hou.
Intussen is nie almal in die ANC geneë met die wet nie en word verneem sommige ANC-LP’s wat op die parlementêre ad hoc-komitee dien wat die wetsontwerp moet oorweeg, “ongemaklik” en “skepties” daaroor is.
Dis veral die moontlike ongrondwetlikheid en inbreuk op persvryheid wat enkele ANC-wetmakers pla.
Dit lyk of ondersteuners van die wet hul argumente gaan grond op die bevindinge van die parlementêre ondersoek na die Browse Mole-verslag.
Dié verslag, ’n fabrikasie wat sy ontstaan in die ontbinde Skerpioene gehad en aangevoer het pres. Jacob Zuma was deel van ’n komplot om oudpres. Thabo Mbeki se regering omver te werp, is verlede jaar deur ANC-LP’s gebruik om van adv. Vusi Pikoli as nasionale vervolgingshoof ontslae te raak.
Cecil Burgess (ANC), wat voorsitter is van die ad hoc-komitee, was ’n voorbok in pogings om Browse Mole op Pikoli se brood te smeer.
Die SAKP en Sanco sal hoop op ’n simpatieke oor wanneer hulle gaan verduidelik staatsinligting moet beskerm word sodat “die smous van inligting soos die Browse Mole” verhoed kan word.
- Die Burger