SAKP ook nie reg vir ’n tribunaal
2010-08-30 06:32
Kaapstad – Die ANC se beoogde media-appèltribunaal het uit eie geledere die
wind van voor gekry toe die SAKP aangekondig het dat hy die plan nie
meer onvoorwaardelik steun nie.
Die SAKP se sentrale komitee het gister onder meer ook gewaarsku teen “politieke manipulering” van die hele proses.
Die sentrale komitee – die party se hoogste gesagsliggaam – het die
naweek vergader om oor kwessies soos die landwye staking en die
besprekingsdokumente vir die regerende alliansie se hoofraadsvergadering
einde September te besin.
Waar senior SAKP-leiers, soos dr. Blade Nzimande en mnre. Gwede
Mantashe en Jeremy Cronin, tot baie onlangs prontuit vir ’n
mediatribunaal voorbrand gemaak het, het die party ná die naweek se
byeenkoms egter voorbehoude gehad.
Dit kom nadat ook Cosatu verlede week gesê het hy kan nie ’n
mediatribunaal ondersteun wat “wegkruipplek aan korruptes sal gee nie”.
Nzimande het gister op ’n nuuskonferensie gesê daar moet teen
“politieke manipulering” van die proses (om ’n mediatribunaal tot stand
te bring) gewaak word.
Die SAKP het voorgestel dat ook die media in ’n keuringspaneel moet
dien om mense vir die tribunaal aan te stel en dat dié taak nie net aan
die parlement oorgelaat kan word nie.
Die party het voorts beklemtoon dat die tribunaal “volkome onafhanklik” moet wees.
“Onafhanklik van enige partypolitieke of regeringsinvloed asook onafhanklik van inmenging van die kommersiële media.”
Die SAKP het voorts lof gehad vir pogings van ’n aantal publikasies
wat onlangs hul eie peil van selfregulering probeer verbeter het.
“’n Onafhanklike mediatribunaal en selfregulering moenie as twee teenpole beskou word nie.”
Wat die regering se voorgenome Wet op die Beskerming van Inligting
betref, het die SAKP gesê hy stem saam met “diegene in die media en
elders” dat daar gewaak moet word daarteen dat die klassifikasie van
inligting nie korrupsie toesmeer nie.
“Wetgewing om inligting te beskerm moet gemik wees op die bewaring van sensitiewe inligting en nié op die media nie.”
Wat die landwye staking betref, het die SAKP gesê die gaping tussen
die vergoeding van top-staatsamptenare en diegene op grondvlak is
hopeloos te groot en daarom gaan hy ’n beroep op die regering doen om ’n
moratorium te plaas op salarisverhogings van top-amptenare.
Die SAKP het sy standpunt van vroeër, dat die staking om hoër lone
geregverdig is, maar dat swak dissipline veroordeel moet word, herhaal.
“Die verwaarlosing van pasiënte en die fisieke geweld teen studente
en mede-onderwysers – al hierdie voorvalle doen afbreuk aan die
legitimiteit van die staking en verdeel die werkersklas eerder as om
hulle te verenig.”
Die SAKP het ook gesê hy sal nie toelaat dat die ANC se komende
raadsvergadering ontaard in faksiegevegte en magspeletjies in die
aanloop tot die 2012-kongres nie.
Dit kom nadat die ANC-jeugliga op sy hoofraadsvergadering verlede
week opnuut daarop aangedring het dat Mantashe, die ANC se
sekretaris-generaal, in 2012 deur die jonger mnr. Fikile Mbalula
(adjunkminister van polisie) vervang moet word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger